Die Wyn Met “Takiwatanga”

Hoe verwoord ek  wat ek proe as ek stadig teug aan’n glas Lord’s  3 Barrel Shiraz 2016? Dit is Sondag middag en in die Olivier huis is dit familie tyd, saam eet en kuier, want met twee restaurante is daar selde tyd om rustig te sit, te gesels en ‘n glas wyn stadig en moedswillig te drink.

“Kos is op die tafel” kom die roep …..

Ek het die bottel wat Louwrens my gegee het om te proe, ‘n paar minute gelede oopgemaak en ek is opgewonde soos ‘n kind wat verjaar. Kos is geskep, kinders val weg met eet en Ilze vra: “Gaan jy nou net staar na daai wyn, of gaan jy laat ons proe?”

Die diep kleur van die wyn beindruk my dadelik, amper pers met ‘n ontploffing van ‘n aromatiese neus en dit is asof tyd gaan stilstaan terwyl ek my mond uitspoel. “Liewe ouers lief, hierdie een moet ons lank en rustig op die stoep drink” kom dit van Ilze.  

Die verskillende geure wat jy proe is werklik besonders en net as jy dink jy het ‘n great ervaring gehad, tref ‘n nasmaak  jou wat selfs nog beter is as wat jy nou net geproe het. Dit is asof 3 Barrel 2016 ‘n ekstra proe wegsteek tussen al die geure en net as jy dink jy het hom, dan proe jy hom werklik!

Hierdie wyn laat my aan die Maori begrip “Takiwatanga” dink. Dit word vertaal as: “In his/her own time and place”. Presies wat hierdie wyn met jou doen, hy vat jou na jou eie plek, jou eie tyd en elkeen se ervaring met die drink van 3 Barrel 2016, gaan besonders wees.   

As ek jou teleurstel omdat ek hierdie wyn te min beskryf of met te min lof besing, verstaan jy verkeerd. Niemand kan hierdie wyn vasvang in ‘n paar woorde nie, want dit is heeltemal te kompleks, te diep, te sag en neem elkeen wat daarvan drink na ‘n eie tyd en plek. Hierdie ervaring is presies wat ons by Old Gaol Restaurant reeds vir jare aan ons mense probeer bied, waarlik,  hier is ‘n wyn wat presies dit doen! Ons is bevoorreg om Lord’s  deel van ons familie te kan noem.

Maandag moes ek net weer ‘n bottel oopmaak en die keer het ek en Ilze op die stoep gesit, elkeen in ons eie tyd en plek, daar was eers min woorde en toe gebeur dit, net soos die smaak wat jou agterna tref, was daar ‘n uitvloei van woorde, gesels en lag en  kon ons nie uitgepraat raak oor die ontploffing van smaak en geure nie…… peper, koffie, bessies ag net vrek lekker en dit is presies wat dit is…..  

Dis net lekker, dis net besonders, dis net amazing….

Dit is 3 Barrel 2016…

Dit is Takiwatanga…

Wynand Olivier – Old Gaol Restaurant Swellendam